Below follows my journal of our Angling expedition to Angola. Sorry, but it is only available in Afrikaans.
Dag 1
Vanoggend 2 uur het ons ons vrouens en kinders, katte en honde totsiens geheet en weggespring op ons tog na Angola. Dit was maar bietjie geniepsog koud, en die pakwerk het bietjie gesukkel a.g.v Hanno se baie bagasie wat hy saamvat! Ons het gehoor dat Scara-hule bietjie laat geslaap het en bietjie laat gaan wees. Ons het maar aangestoot en op Zeerust gestop vir ‘n bietjie koffie, maar daar was nog geen teken van Scara en Fanus-hulle nie. Toe ek wakker skrik toe is ons by Botswana se grenspos net voor sonop. Ons het vir Scara-hulle hier gewag soda tons saam oor die grenspos kon gaan. Botswana is maar baie plat en droerig. Laat my dink aan die klein karoo. Dink ‘n volstruis sal goed aard hier. Hier is baie donkies langs die pad. Dit lyk asof die donkies wild voorkom hier. DJ Vosloo het 3 voertuie vermaak met die Ipod transmitter, en versoeke het ingestroom oor die 2-way radio. Fanus het bietjie teespoed gehad want sy Jerrykanne op die roofrack het begin lek. Dit was nogal ‘n morsige affere. Hanno het omtrent al die pad geslaap. Lyk my die man wwas maar moeg geploeg. Ons is laatmiddag oor die Namibie-grens en het toe gestop by Camp Zelda om daar te oornag. By Zelda het hul ons gewys hoe voer hul die Luiperd en Jagluiperde. Bietjie lekker gekuier en gebraai en met die ander manne – en ‘n dame – kennis gemaak. Scara het vir ons solank van die reels duidelik gemaak – soos om nie rommel te strooi nie ens. ‘n Feeskomitee is aangestel uit die ouer garde wat al voorheen die irt afgele het. Hulle moes daagiks besluit wie kry die p*epol van die dag award (Amakaka om die nek) en die Hero van die dag. Scara het sommer dadelik p*epol van die dag gekry oor sy laatkommery. Toe ons moeg raak het ons maar gereed gemaak om ons eerste aand van nog baie onder die sterre te spandeer.
Dag 2
Ons is vroeg op om te ry, maar ons moes eers vir Pinkfoot Jumpstart omdat DJ Vosloo nie einde gehad het gisteraand nie. Scara het alweer getender vir die p*epol award aangesien hy 2 keer moes stop om ‘n Jerrykan diesel in te gooi en dus hengeltyd mors. By gobabis koop ons Kudu Biltong teen slegs R85/kilogram! Piet koop toe sommer alles hehe. Van daar af het ons al hoe meer wild begin sien onder andere, Chesibels, Rooikat, Kameelperd, BAIE Kudu en Vlakvark. Toe hoor ons oor die radio dat Scara se bakkie (Battlescar Galactica) tegniese probleme begin ondervind en overheat totdat hy uitsny. Hulle het die voertuig laat afkoel en daarna was hy weer rybaar. Hier is verskriklik baie miershope sommiges so hoog soos telefoonpale – lanks die pad. By Otjiwarongo het Ben en Thinus gou ‘n DIY windshield repair gedoen, en ons het by Outjo NOG biltong gekoop by DE LA REY slaghuis. Die Kudu biltong is hier goedkoper as bees biltong kan jy glo. Piet het ‘n afdraai gemis en ons het ‘n Detour van sowat 160km gery tot by Etosha-Hek, en dus was Pinkfoot crew effe agter die res. Oppad hoor ons dat Battlescar die gees gegee het en dat Fanus-hulle hom terugsleep na Kamanjab waar hul hom na Falkenberg motors geneem het. Dit was al na toemaaktyd, maar die gawe eienaars Lars en Juanitha het gese hul sal Battlescar inneem en vroegmore oopmaak en kyk wat fout is. Hulle het ook vir ons akkomodasie gereel by Kamanjab Ruskamp. Gemoedere het bietjie hoog geloop hierna weensdie feit dat al die voertuir reeds tot kapasiteit gelaai was en ons nie sonder ‘n voertuig souk on verder ry nie. En indien hul Battlescar sou regmaak, sou dit beteken dat ons 3-4 dae sal verloor as ons gelukkig is. Party het selfs gese dat ons sal moet terugdraai. Battlescar sou nie die res van die ekspedisie meemaak nie. Dis hier waar Piet se ervaring ons uit die nood gehelp het. Nadat samesprekings gevoer is en Piet se voorstel aanvaar is, as alles uit die oorblywende voertuie gelaai. Ons het onnodige items gelos en net die noodsaaklike gepak. Met noodsaaklike bedoel ek Visstokke, aas, klere, beddegoed, alkoholiese verversings en natuurlik die my kitaar - mens kan nie sonder bier en lewendige musiek verder nie (Dankie Ben). My voorstel om die bier te los is nie eens aangehoor nie – inteendeel – ek was amper bygedam met warm klap. Reserwe diesel is ingegooi in die voertuie en die Jerrykanne sal more agtergelaat word by Battlescar saam met die res van die onodige items. So het ons Battlescar se bagasie ook ingekry in die oorblywende voertuie. Die voertuie se dakke is ook beut as pakplek – roofrack of nie. Na die herpak het os saam met Lars en Juanitha om die vuur gesit en liedjies gesing. Juanitha het op die kitaar die Duitswes lied gespeel en Piet het hom uit volle bors in Duits gesing. Wat ‘n oomblik – terwyl die Jakkalse in die verte huil. Later het Juanitha vir ons die Duitwes lied geleer en almal het saamgesing. Te lekker man. Ek het ook oudergewoonte vir ons ‘n paar nommertjies getokkel, en die Bobbejaanlied is besig om deel te raak van elke aand se playlist hehe. Ons het toe ietsie gaan eet by hul restaurant en kroeg. Die lekkerste steaks is daar verorber deur die honger groep van ons, en die laaste warm stort vir ‘n hele paar dae is geneem. Ons het toe sommer net so om die vuur gaan slaap.
Dag 3
Gisteraand het ek die lekkerste slaap in 3 nagte gehad. Ons kon bietjie later slaap omdat ons nog die kamp moes betaal en ook nog die laaste paar dinge inpak terwyl Scara die verdict gaan kry het oor Battlescar. Toe pak ons weer die langpad aan, met manne wat basically op mekaar se skote sit. Maar visvang sal ons visvang. Ons moes nou bier drink sodat ons meer beenspasie kan kry – met die gevolg dat sommige manne elke 20 minute moet water afslaan. Dit het tyd gemors, maar net totdat die peery gesinkroniseer was – en toe gaan dit beter. Ons het laat in Ruacana aangekom en het daar weer die bakkies se pense vol Diesel gemaak. By die Namibie/Angola grenspos het ons na die Ruacana valle gaan kyk. Al was dit droog was die massiewe gorge nog steeds asemrowend. Ons het omtrent ‘n uur aan die Namibie kant en 2 ure aan die Angola kant aan die admin gespandeer. Die Angola officials was baie vol nonsens om ons te laat ingaan. Gelukkig was Porra (Dominic) by om ons tolk te wees en kon darem met die ouens in hul eie taal onderhandel, want hulle verstaan nie Engels nie, en ons nie Portugees nie. Daar is ‘n duidelike skeiding tussen Angola en Namibie wat infrastruktuur anbetref. By die grens hek word die pad grond en die geboue is vervalle aan die Angola kant. ‘n Paar bokke en hoenders krap maar rond op soek na ietsie voedingswaardig. Van hier af het die grondpad vinnig begin sleg raak, en 4x4 is engage. Net voor sononder het ons ‘n lekker rivierloop gekry waar ons sal oornag. Laer is getrek, vuur is gemaak en Pinkfoot Crew het begin om hotdogs te maak vir die geselskap. Niel en Andre is gestraf a.g.v. hul geelkaarte wat m.i.a. was, en Piet het die Amakaka award ingepalm toe hy die Ruacana afdraai misgery het en ook omdat hy sy onderbroek verloor het by die grenspos a.g.v. ‘n natte... Dominic het Champ of the day gekry omdat hy so mooi ge’tolk’ het by die Angola grenspos officials.Scara het ‘n touching speech gelewer oor sy ontbering van gister en hoe hy die vriendskap en hulp waardeer. EN HANNO VERJAAR!!! Gedagtes van die dag was: Fanus – “I love U 2”; Whitey – “hoe dinge gebeur is 10%, hoe jy dit hanteer is 90%”; Richard – “ons almal is bevoorreg om hier te wees”; Niel – “A bad day of fishing is better than a day at work”; Hanno – “Dis my beste verjaarsdag ooit. Mens moet nie kyk na die prys tag van die trip nie – hierdie ervaringe kan nie gekoop word nie. Ons is ‘n lekker klomp ouens en ek het respek vir Scara want ek dink dit vat guts om so ‘n trip te reel”; Poppie – “’n Week terug het ek gese ek gaan nie kom nie.
Cliffie - “Eks al ou watgaan visvang vannag…” Porra – “It’s a very nice experience, and we are ll privileged to be here.” Ben – “ Op ‘n skaal van 1-10 is vandag ‘n tien. Ek sien al lankal uit na die trip, en na die volgende een.” Thinus – “Julle moenie die oues laat praat nie! Ons luister ook altyd na musiek in die bakkies en in die stad. Ons sit nou in die iddel van die bos. Ons moet bietjie monder na musiek luister en bietjie luister na die natuur.” (En toe is DJ Vosloo sonder job) Piet – “Hanno et beste seat gehad op Pinkfoot se centre console!”
Ons het toe bitjie gekuier en Scara het bietjie begin Weedeater praat. Niel het baie hard prober om weer DJ te wees met halwe sukses.
Scara het toe gesels oor die afgelope 2 dae se moeilikhede, en het vanmiddag amper ‘n traan geknip by die grenspos. Hy het wel een geknip toe ek vanoggend hierdie versie op vndag se dagblaadjie van die dagboek lees: “Deur U bevele kry ek insig” (Ps.119:104). Waarheen gaan ons? Watter Pad moet ons volg? Die Psalmdiger sê die Woord van God is ons kaart en ons lig op die weg na God se wysheid…
Hierna het ek weer bietjie kitaar gespeel en totdat almal een na die ander ingesluimer het.
Dag 4
Ons het met die daglig opgestaan en opgepak. Ons het baie lekker gelaap – son in die bos, onder ie sterre. Terwyl ons gery het, het ons goeie werk daarvan gemaak om bier te verander in legroom. Ons het ook nuwe planne gemaak vir spasie: Eers het Porra en Richard op die Landie se dak gery, en later ek en Niel, met porra op die enjinkap. Van hier af het die “pad”, of liewer “roete”, nog slegter geraak. Richard het goed 4x4 gery, onder leiding van Fanus, al het hy somtyds soos ‘n poepol gery met ons op die dak. As hy stukkie plat grond kry dan gee hy vet! Maar ek kan hom nie blameer nie – ons wou almal by die see uitkom. Daar was maar ‘n paar benoude oomblikke op die dak, met al die body-roll en om heeltyd doringtakke te dodge. Hier en daar was daar stamvestings langs die roete, en hul almal roep net “suweet, suweet!” as ons verby ry. Ons het maar paar “suweets” vir hulle gegee langs die pad. Oor biltong is hul nie getraak nie. Hul ruik aan dit en gooi dit op die grond neer. Ons het ook die Zebraberge begin teekom. Daar is letterlik derduissende dolomite rotse wat lyk asof dit bo uit die koppie uitborrel en dan riviere van rotse teen die hange af vorm. Piet het ons meegedeel dat hierdie rots-riviere soos zebra-strepe lyk vanuit die lug, vaandaar die naam. Ons begin ook kremetarte sien en die landskap verander effe vanaf ruie bos na groter ooptes met kremetart- en Mopani-bome. Daar was ook baie klein Kremetarte. Later is dit ons meegedeel dat hierdie klein kremetart boompies (so ‘n meter hoog) eintlik koedoe lelies is.(Dankie Ben en Thinus!). Fanus se (nuwe) jerrykanne het weer baie gelek – is so ‘n mate dat die rubberising in die dakgeute begin oplos het, met gevolg dat die roofrack geskuif a.g.v. die swaar gewig en rowwe terrain. Ons het die roofrack weer reggeskuif en ander stappe geneem om dit te prober verhoed. Clifford het weer 2 pap wiele ingepalm, maar jy is gelukkig as jy nie hier ‘n pap wiel kry nie. (Hail BF Goodrich!) Toe skemer aanbreek slaan trek ons weer laer – TB teen die kliprand. Pinkfoot se crew het lekker Bulliebief pot gemaak en daarna was daar lekker ge-eet en gekuier. Ons het ‘n 130 km gery teen ‘n gemiddelde spoed van 20km/h.
Gedagtes en kommentaar van die dag was as volg:
Ben: “Hierdie is ‘n besonderse experience, met al die plantlewe en vriende.”
Whitey: “Teen ‘n gemiddelde spoed van 25km/h moet mens maar verdraagsaamheid aan die dag lê. Ek geniet die om voor saam met Fanus te ry, en ook die samesyn!”
Poppie: “Dit was ‘n slegte dag , maar na ‘n strafdop was dit beter! En daar is ‘n hond wat blaf in haar bed...”?????
Cliffie: “Fanus het gesê dit gaan anders wees met ‘n vrou saam op die trip, maar dit is anders, al is sy saam of nie. Die Rivercrossing het my lekker nat gehad en ek het lekker gebewe na ek daardeur is! Hierdie trip is elke keer ‘n nuwe experience. Ek was die moer in omdat Poppie initially nie wou saamkom nie, maar sy is ‘n pionier vir vrouens op hierdie safari. Sy doen baanbrekerswerk. Ons moet ook ander geselskappe op die roete verwag. Maar die Brannas vang my nou, en ek wil nie dankie sê vir al die ouens wat gehelp het met die Rivercrossing. Ek wou self die ekspedisie aanpak, maar ‘ mens kan dit nie alleen accomplish nie, maar dankie vir almal wat dit moontlik maak, of hul nou help met ‘n spaarwiel of ‘n koue bier. Overwind is koning!”
Fanus: “Ek het vandag ‘n liedjie van Koos Kombuis geluister op die radio, daai F*kof ene. Koos het uitgemis en en was negatief toe hy daardie liedjie geskryf het. F*kol is eintlik alles, en dit is wat jy daarvan maak, want hier is f*kol. Al het Scara se bakkie gaan staan, gaan ons aan, al hang ons aan die trokkie maak ons dit.
Thinus: “Iets wat julle nie weet nie is date k Ben se bakkie so opgeneuk het dat Ben later uitroep ‘STOP’ elke keer as daar ‘n klip in die pad is en hom dan uit die pad uitrol. Hierdie trip is ‘n geleendheid vuir sy siel om op te van met sy liggaam na die gejaag in die stad...
Andre: Vanoggend wou ek net by die visvang uitkom, en het gedink ek wil nie weer Angola toe kom nie oor die lang rit, maar ek het uitgevind dat die lang rit deel is van die experience. Ek het vandag 752 fotos geneem. Ek besef ook dat tyd nie meer ‘n issue is nie.”
Piet: Op die vorige trip was Pinkfoot nuut, en die Kapenaars was bekommerd of Pinkfoot dit gaan maak. Ek besef almal wil ‘n beurt he om pinkfoot te bestuur, maar hierdie lorrie is my plesier om te ry. Ek geniet Andre se fotonemery en ons het die base station radios nou voor en agter. Porra must be careful not to end up like Absalom! Ek hoop dat moreaand hierdie tyd ons ‘n kabeljoutjie op die kole het.
Ekke: “Ek kan nie aan ‘n beter manier dink as hoe anders ‘n Sondag te spandeer nie. Ek het die hele dag lekker op die dak gery.“
Weer Cliffie: Overwind is koning, en het het ‘n braatjie vit kabeljou op Suzi se dak!
Dag 5
Gisteraand se kliprand met sy Miljoene wit klippertjies slaap lekkerder as wat ek gedink het. Porra, Richard en ek het gisteraand skerpioene gaan soek, en het ‘n hele paar gevaarlikes sommer hier by die kamp gekry! Volgende keer bring ek ‘n stretcher, net vir hierdie kliprand! Van die kliprand af was dit GRUELLING 4x4. Die bakkies is nou al vir 3 dae konstant in 4 wiel. By Yuna afgedraai om aan te meld by die polisiekantoor, waar ek en fanus saam met die local kinders gedans het. Van hier af was die pad effe beter, en ons het Yuna se grasvlaktes betree, waar ons Sprinkgbokke en Gemsbokke begin teekom het en ook nie te veel hoef 4x4 te ry nie. Hier is verskriklik baie foto geleenthede en die Welwitschia gardens is regtig besonders. Ongelooflik, kom ons of ‘n Chevy/Failane af, letterlik in die middle van nerens. Ek wonder darem hoe het hy dit tot hier gemaak as en in retrospect kyk na die roete wat ons die afgelope 3 dae afgele het. G’n wonder hy het hier sy laaste asem kom uitblaas nie. Toe ons die koel lug oor ons wange voel spoel, die Namib woestyn se duine en die misbanke begin sien, het ons geweet ons is nou naby aan die see. ‘n Angola topspoed is hier bereik: ‘n volle 68km/h, en ons het dit prober volhou om ons ETA bietjie minder te maak. Evil Knevil (Fanus) se spaarwiel op die dak het losgekom en ons het met ons boeglam geskrik toe hy oor die bonnet kom en aanfoeter in dir rigting van die see. ‘n Lastige duintjie het vir Pinkfoot, Diesel & Dust en Suzie bietjie opdraende gegee, maar almal is oor hom danksy die snatch rope. Net na sononder arriveer ons by Foz do Cunene, waar ons tente opgeslaan het (vir die eerste keer) en daarna die stort beetgepak het. Ons het gedink dis die son wat ons so bruin gebrand het, maar ons het anders besef na die stort... dit was 3 dae se stof wat ons so bruin het! Die res van die aand het daar nie veel verloop nie, elke mens het maar sy eie rigting ingeslaan of gaan slaap, terwyl die kring van spotters nog ‘n paar bottels Richelieu laat sneuwel het rondom die kampvuur... Ons is nou 2700km weg van Pretoria...
Dag 6
Baie geluk met Piet se Verjaasdag! Vroegdag is ons see toe, elke ou met ‘n Up ‘n Go in die hand... ONS GAAN NOU VISVANG! Die Visvang het sommer lekker afgeskop, want die kabeljou het gebyt dat die biesies bewe. Dit voel asof mens Elwe vang! Piet het die kabeljoue GELOOI met sy dropshot, die een na die ander na die ander. Die gemiddelde vans was so 10 – 20 kob pp, met sekere ernstige manne bo die 30 gaan draai het (Piet, Scara!). Die visse wat seergekry het, het ons gefillet, gaar gemaak en LEKKER geëet! Van die manne het gery om hou te gaan optel en kampvuur is gemaak.
Die aand het ons vir Piet happy birthday gesing, begelei deur blues kitaar. Die locals het vir ons ingelig oor die stortreëling en genny-tye. Ons besluit toe sommer ook dat Porra ‘n haarsny nodig hetm en Scara knip dit toe sommer net daar vir hom. Scara lig ons in oor die pryse wat gewen kan word. “n merit/de-merit stelsel is ingestel vir vandag, wat onder andere ingesluit het:
Tinus eerste soutwater vis (wat ‘n verwelkoming!) = merit.
Whitey wat die Katrol verkeerd om posit = De-merit (en sommer amaKaka ook) en hy wys ons hoe die trofee EINTLIK gedra moet word! Whitey Merit almal vir die hulp aan mekaar verleen
Niel wat soos besetene ry dat die manne afspring van die dak af = de-merit (Maar dit was snaaks! ”Hy spring nie af nie – hy BL*KSEM AF!)
Scara se goeie reëlings = Merit
Cliffie se goeie reëlings = Merit
Poppie kan visvang! En haar verdraagsaamheid = Merit
Gedagtes vand die dag:
Whitey: “Die vrou van Kamanjab het gesê, ‘Hoe meer k*k jy oplaai, hoe swaarder word jou rugsak,’ as ‘n vriend jou verlaat het, was hy nooit jou vriend nie. Hier vind jy ware vriendskap, en ek gaan die experience saam met my terugvat. Om ‘n ware vriend by jou te hê is ‘n voorreg Hier leer mens mekaar se krulle en grille. Die nuwe vriende moet in kontak bly. Die ‘Nare Kapenare’ is ‘n ander storie. Die ouens kliek lekker.
Niel: “Scara het een aand in Oesterbaai gesê dat ons eendag in Angola moet gaan visvang. Ek wil graag my laaitie saambring, maar hy moet eers 15 wees. Ek geniet die nuwelinge.”
Cliffie: “Goete is anders, maar ook baie dieselde as vorige jare. Die vis byt op dieselfde plekke, die groottes is dieselfde. Die visvang by die Cunene mond bly nog steeds belowend. ‘n Mens kry nie meer hierdie kwaliteit van visvang in Suid-Afrika nie.”
Richard: “Almal smile heeldag. Ek hoop die land bly dieselfde en date k dit weer kan geniet, en ons vang vis, ten spyte van die problem wat ons ondervind het” (En hy lag weer oor die aliens op die radio...)
Ben: “Die laaste 2 dae se ryery was tough, maar die visvang maak op vir alles. Hierdie is nie een van daai ‘organized goete nie. Hierdie trip is onmoontlik om alleen aan te pak, die onbaatsugtige mense wat dit moontlik maak en die nou bande wat gesmee word is onmisbaar. Ek kry mense nie oortuig om saam te kom nie, want hul glo dit nie, WANT DIT IS TE GOED OM WAAR TE WEES! Ek weet nie of ek hierdie experience met ander moet deel, en of ek dit ‘n geheim moet hou nie. Boonop het ek vandag 18 km gestap ook nog!
Thinus: “Dis so lekker ek kry sommer ‘n ****styf!
Ekke: “Soos Ben sê, mens moet dit eintlik ‘n geheim hou om dit te bewaar. Al vang ek nie een vis meer op hierdie ekspedisie nie, is ek nog steeds tevrede.”
Poppie: “Moenie klippe uit die pad uitrol nie, dit gee hoofpyn. Die 3 dae se rit was ‘n rough ride.”
Piet: “Ek verjaar baie lekker, en wil weer in Angola verjaar! Dit is vir my die beste present om hier te wees saam met al die manne, die vriende hier, en die nuwes wat ek gemaak het. Fanus is my neef, maar ons sien mekaar net in Angola! Ek het vanoggend agter die skerms prober poef, maar almal het gesien hehe. Dankie aan Niel dat hy ons tjokka vir ons voor die tyd opgesny het – ‘n mens kon net haak en gooi. Die mooiste sonopkoms was Sarel se smile toe hy daai groot kabeljou land en skree: ‘BRING ‘n GAFF!’ Dit was ook mooi toe Cliffie en Poppie altwee mooi visse op die selfde tyd aangehad het, want Cliffie help haar altyd, maar nie hierdie keer nie! Poppie moes self sien-kom-klaar terwyl Cliffie sy eie een inbring!”
Hanno: “Los my uit, ek slaap...”
Scara: “Wat vir my lekker is, is die wegbreek, die kans om met iets anders te sukkel en die mense waarop ‘n mens kan staatmaak.”
Alles van hierdie trip is waar: Die 4x4, die visvang en die samesyn...
En whitey slaan amakaka los omdat hy sy katrol verkeerd om op sy stok vasgesit het, en toe wys hy sommer vir ons hoe moet hy EINTLIK gedra word!
Dag 7
Gisteraand het van die manne (ek inkluis) besluit om bietjie in die nag te gaan visvang. Ons het seker 12h00 die aand tot hierdie besluit gekom. Vanoggend skrik ek wakker agterin Pienkfoot, met die ander manne ook vas aan die slaap voorin en langsaan in Diesel & Dust. Ek het nie eers by die visvang uitgekom nie, maar nou was dit net mooi sonopkoms, en die tyd is perfek. Toe raas ek maar die ander manne wakker met die gehamer op tjokka. Scara se stok het op die grond gelê – uit die gimble getrek – en toe ons die lyn volg toe loop dit mooi in ‘n krap se gat in – so ‘n duim in deursnee. Wat ‘n krap moet dit nie wees nie! Wat ‘n stok uit sy gimble trek? Maar toe sien on s die Jakkals se spore. Gelukkig sit scara se aas nie nou nog in sy bek nie – dan was die stok nou nog soek. Nie lank nie, toe stop die ander manne ook op die strand, bietjie omgekrap omdat ons sonder hulle gaan visvang het in die middle van die nag. But if you snooze – you lose. Gelukkig het almal oorgenoeg kabeljou gevang regdeur die dag om op te maak daarvoor. Hanno het ook ‘n seebaber en ‘n varswaterbaber op dieselfde spot gevang in die Cunene by Foz. Scara het ‘n massiewe steenbras gevang van 10,5 kg.
Die aand het ons weer lekker geëet aan ‘n pot wat Scara vir ons gemaak het, asook daai steenbras en kolsterte se koppe! Daarna ‘n paar stywe knerste geniet voor ons gaan inkruip het.
Dag 8
Weer Kunene – mond toe. Soos gewoonlik het ons die Kabeljou weer GELOOI! Van die manne het prober om leervis te vang in die riviermond. ‘n Paar helse groot springer is gejig en gebruik vir aas. Na my 10de kabeljou het ek my stok neergesit en bietjie die wêreld om die Cunene- mond gaan verken. Hier is ongelooflik baie seesklipaaie. Mens sien gereeld een in die branders, en hulle swem die heeltyd in en uit die mond, sommer so 3 op ‘n slag. Ek en Whitey het mooi skulpe en klippers opgetel. Alles is so ongerep hier, met die mooi Namib woestyn se duine in die agtergrond.
Vanaand moet ons die bakkies pak om so 5h00 more-oggend hier weg te vlieg soda tons betyds kan wees vir Baia dos Tigres, ook bekend as ‘Die doods-akker’ of ‘Dead Zone’. Hoekom ons betyds vmoet wees vir die Tigres is omdat jy net ‘n paar uur het om daardie gedeelte strand te ry a.g.v. die duine en die see wat letterlik bymekaarkom daar. As die gety jou daar vang, is die kanse skraal dat jy ooit weer jou voertuig (of huis) gaan sien. Ons vang sommer weer die laaste stort vir 2 dae en gaan kruip vroeg in, behalwe vir ‘n paar geharde kuiergatte (Julle weet wie julle is!)
Dag 9
Ten spyte van al ons reelings wat ons getref het vir vroeg wegtrek, het die kuiergatte versuim om hul voertuig te pak sodat ons net kan ry. Darem ken ons van agterosse, en het gelukkig Piet ‘n safety-net ingebou in ons skedule om hiervoor te kompenseer. Ons is so 5h30 weg by Cunene, in die stikdonker, wat navigasie bietjie moeilik gemaak het omdat daar baie klip is en mens die oop pad moet soek. Die GPS help hier nie vir alles nie, want as jy net agter die GPS aanry, gaan jy in ‘n klip vasry. Cliffie besluit toe om bietjie baanbrekerswerk te doen met die spoorsny, maar het in sy opgewondenheid te ver vooruitgery totdat ons hom nie meer kon sien nie. Later het ons radioverbinding ook met hom verloor. Emosies het toe begin hoog loop omdat ons tyd opraak. Later kry ons Cliffie op die Radio en verneem dat hy vassit, maar waar? Gelukkig sien ek ‘n dowwe glinster van sy ligte doer in die verte, waar hy in die poeiersand gaan vassit het. Ben en Thinus bevry hul toe uit hul penarie, maar dit was geensins die laaste vassit nie. Poeiersand, klippe en Shonas (soos dryfsand) het dinge vir ons nie maklik gemaak nie.
Uiteindelik is ons op die strand, en nou moet ons laat loop met die water kort op ons hakke. Ons het so 235 km om strandlangs af te lê oor die volgende 2 dae voor ons weer pad kry. Cliffie het weer (sug) ‘n band verloor op die strand, en Fanus het amper die roete misgery wat sekerlik ‘n lelike vassit sou beteken. Piet het hom darem betyds vir hom ligte gegooi in ons is uit die rut op die laaste plekkei moontlik! Close Call. Party gedeeltes moes mens stop vir die branders om verby te kom, maar niks ernstig nie, ons timing was so te se perfek.
Dit is maar baie mistig hier, wat bydra tot die spookagtige ‘eerie’ gevoel wat ‘n mens hier kry - ‘n mens kan die spoke van Baia dos Tigres aanvoel terwyl ‘n mens hier is
Seker dele is daar groenigheid reg teen die see, en die see lyk soos ‘n dam a.g.v die Tigres baai/eiland. Seelewe is hier van baie: malgasse by die duisende en ‘n mens sien sommer waar al die vis uit die water spring. As mens net die tyd gehad het kon mens lekker hier vang.
Toen ons uit die ergste van die Dead-zone is kon ons bietjie stop om ‘n paar groot, rou mossels te geniet langs die strand.
Uit die Dead zone uit, het ons laer getrek en bietjie die duine te voet gaan verken. Richard en Porra het ‘extreme duin bolomakiesies’ gemaak en ons almal laat skater van die lag. Met die hengel het ons, maar nie baie sukses behaal nie. Neil het ‘n spottie en ‘n lekker kabeljou getrek. Scara en Porra het ook lekker groot Pickups gehad, maar is afgebrand. Ek het ‘n lekker slapie langs my visstok ingepak. Ek en Scara het tot diep in die donker gehengel. Na aandete het ons bietjie gekuier en nog gehengel, musiek gemaak en baie moeg maar gaan lê.
Dag 10
Vanoggend nog ‘n keer op een van die mooste plekke ter wêreld wakker geword. Gisteraand het ‘n jakkals to binne ‘n meter van Ben en Thinus gekom terwyl hul geslaap het.
Ons gaan nou die laaste end strand aandurf tot by samelewing.
Ons het 2 skeepswrakke langs die pad gekry – die ‘Consortium Alpha’ - wat daar amper niks van oor is nie, en verder langs die strand, die ‘Vanessa Seafood’ – ‘n staal vissersboot waarop mens nog versigtig kan verken en rondloop. Niel en ek het die Titanic-move op die skip se neus gedoen hehe! Ek het by die ‘Consortium Alpha’ ‘n paar witmossels gekry wat ons dalk bietjie later sal eet.
Van hier is ons oor die duine (waar Cliffie en Suzie weer bietjie gesukkel het. Cliffie het behoorlik sy mo*r gestrip vir Suzie, en het dit darem uiteindelik oor die duin gemaak. Op die vlaktes ager die duin het ons ‘n ander Kaapse geselskap raakgeloop, oppad in die teenoorgestelde rigting waarvandaan ons gekom het. Die ouens van hul geselskap het lekker die draak gesteek met Fanus en Whitey toe hul gemaak het asof hul ou vriende was (maar eintlik het hul net die name op Whitey en Fanus se hemde gelees hehe! Dit was so lekker om weer bietjie spoed op te tel op die vlaktes, en party plekke het die voertuie langs mekaar gery. Ons het weer ‘n nuwe Angola spoed-rekord hier opgestel van so 80km/h! WOW! Hier het ons tekens van ‘beskawing’ begin sien.
Toe ons teerpad tref moes ons aan die regterkant van die pad ry – soos in Amerika. Scara het al die drywers darem mooi hiervan laat weet. Die taxis is maar net so onverskillig soos in Suid – Afrika. Dit lyk asof die meeste mense hier bestaansboerderye voer, met klein mielielande en ‘n paar piesangbome ens. - maar baie primitief – en in die weste kon mens die mooiste bloue see sien met vesteende sadduin kranse al langs die kus. Hier is tekens van ‘n tyd wat daar elektrisiteit was, maar al die hoëspanningslyne se kabels is afgesteel. Al die geboue is vervalle.
Ons het ook verby ‘n brug gery wat destyds deur Suid-Afrika opgelaas, en toe weer reggemaak is
Toe het ons die kilometers na FD (Free Draught) begin aftel. 100km... 50km... 25km... 10km... 5km... 500m en toe UITENDELIK IS ONS DAAR! FLAMINGO LODGE! Ons het sommer by die Lodge Reastaurant gestop, die trappe opgehardloop, en gesoek na die FD... toe sê hulle vir ons dat die Draught masjien stukkend is.
As jy 13 manne en 1 vrou, almal doodstil, met trane wat wil-wil uit al ooit in jou lewe gesien het, was dit hier. Ons kele is voel vol stof – en ons kan nou nie eens ‘n paar FD’s geniet nie. ONAANVAARBAAR. Cliffie het toe opgemaak vir gisteroggend se vertraaging deur vir ons elkeen ‘n N’Gola biertjie te koop. Needless to say was hy onmiddelik vergewe. Na nog ‘n paar biere (wat nie te goekoop is nie - US$2 elk) het ons maar besluit om te gaan kamp opslaan en die stoke reg te kry vir hengel.
Toe ons van die kamp af terugkom, stop ons gou by die restaurant om die ander manne te gaan roep. Ons sien toe hoe die Bronsies sommer net hier voor in die branders rondswem! Ongelooflik! Ek hardloop toe op na die restaurant om van die manne te roep, maar toe ek daar kom, sit hul almal –tot my verbasing – met ‘n FD in die hand! Toe ek vir Niel vra wat dan nou aangaan het hy eenvoudig geantwoord: “Ek het hom gafeeeeeks” met ‘n onderlingse smile op sy bakkies.Net daar besluit ek dat die bronsies vanaand nog kan rus, en ek ook!
Heel aand het ons lekker gekuier en lie-dice gespeel terwyl die manne wat hengel solank die bronsies beproef het, en ons die FDs. André en Porra het volstoom die Bronsies geteiken, terwyl ons hulle vanuit die reataurant dopgehou het. Ons het ‘n bietjie ordentlike kos geëet en later van tyd, toe ons leeeekker moeg was, maar kamp toe geloop en gaan slaap. Wat ‘n dag.
Dag 11
André en Porra was vroegoggend al op, en soos hul sê: “the early bird catches the worm” het hulle elkeen mooi Bronsies geland, met Porra s’n wat ingekom het met ‘n whopping 131kg op die skaal! Ons almal het toe ‘n ens suid gery waar ons in ‘n baaitjie gaan spin en dopshot het. Piet het ‘n mooi elf daar uitgetrek. Ons kon sien hoe jag die elwe in die water, maar ons kon net nie agterkom waaraan hul wil byt nie.
Teen skemertyd het ons teruggekeer na Flamingo om die bronsies te teiken. Ons kon hul weer in die branders sien swem. Mens kan letterlik jou aas voor sy neus gooi en hy tel dit op. Die manne het so hier en daar ene opgetel en verloor, en toe EWESKIELIK was daar ‘n Bronsie FEEDING FRENZY! Op ‘n stadium wasdaar tot 4 ouens elkken met ‘n bonsie op die lyn – groot sports! Die interessantste was dat die bonsies uit die water spring of ‘breach, sodra een aan die hoek byt. Ek het elf geteiken en is toe wragtig deur ‘n bronsie opgetel – toe ek die stok optel het die gimble tussen my bene gehaak en daar hole k agter die bronsie aan met ‘n blou gimble tussen my bene en ek het nie eens ‘n fighting bucket aan nie! Scara en Richard het tot my redding gekom en die gimble uitgetrek en my toegerus met iemand se fighting bucket – dit alles tot almal se vermaak hehe! Na ‘n lang gespook het ek die bronsie veloor in die branders, maar teen die tyd was Hanno Cliffie elkeen besig met ‘n bronsie van hul eie. Hul altwee het hul bronsies geland.
Later by die restaurant sien ons dat die Nare Kapenare ge-arriveer het, en die manne wil kuier... ons was bang en het maar kamp toe gegaan om te rus na al die gestoei met die bronsies.
Hier besef ek, dat ek ‘n week laas my beursie en selfoon gebruik het – die ongelooflike gevoel van vryheid, waar niks jou pla nie, en jy weer soos ‘n kind kan voel...
Dag 12
Ons het vroegoggend weer gaan vis en daar het 3 elwe en 1 Leerie uitgekom voordat die water stil geraak het. Piet het ons bederf met middagete op die strand, en ons het vir Hanno lekker skrikgemaak toe hy voor die Landie gaan slaap het! Ons is toe terug Flamingo toe waar die manne ernstig begin fles-vat het. Na ‘n paar FD’s en ‘n bietjie lie-dice, het sommiges verder gesuip terwyl die res van ons verder gaan hengel het, maar die see was onstuimig en die kolsterte het gepla. Toe gaan ons sononder maar weer kamp toe.
Terug by die restaurant het dinge erg geraak. Die kapenare het sulke 5l druiwesap papsakke by hulle gehad. Hul het ons op ‘n gemene manier laat uitvind dat dit eintlik nie druiwesap in daardie sakke is nie, maar 83% vol. BRANDEWYN! Jislaaik daardie goed is sterk! Kort voor lang was ons almal lekker ge-twar vaan daardie kaapse gif! (LET WEL: Slegte idee om dit te gebruik vir Lie-dice strafdop!) Ek het lekker kitaar gespeel en die Kapenaare het lekker stories vertel. Piet het my met die Olifant-Drol baal ‘n chain toekenning besorg (hoekom weet ek nou nog nie) en vereis dat ek die leeuloop doen met die ding tussen my bene. Ai tog...
Die res van die aand is ‘n blur. Sal more weer daai bronschjie tackle...
Dag 13
Gisteraand se kapenaar-brannas is definitief nie goed vir die pens nie. Ons gaan hengel verder noord, maar kry niks. Iets groots brand my slider af – seker weer ‘n bronsie. Die see is onstuimig a.g.v. die koue front oppad uit die kaap.
Ons het lekker potbrood gebak op die strand met eiers en bacon. Na die etery het van ons maar ‘n uiltjie geknip op die strand om te recover van die kaapse brannas. Scara kry toe daarem ‘n mooi kabeljou op die rotse bietjie verder van waar ons gestaan het. Vroegmiddag is ons weer terug kamp toe. Van die manne wou die laaste FD’s gaan opdrink. Ek en Scara het sommer ons bronsie-tackle daar in die restaurant reggekry vir vanaand- die laaste aand.
Die aand verlor ek toe 3 Bronsies – sommer reg voor die restaurant – een het nie die aas gesluk nie en die ander 2 het my 170 pond staal sommer net so afgebyt. Toe gooi ek en Scara maar die handdoek in – tot volgende jaar as ons weer hier is.
Terug by die kamp het ek en Scara ‘n bramfaan gegooi en 1h00 die oggend ‘n kabeljoutjie op die kole gegooi. Ek het ook ‘n jackals gelok met ‘n jakkals-huil op my selfoon! Ons wurg elke laaste minuut hier in. Ou Hanno het bietjie getap by die kamp aangekom – blykbaar het hy ook met die Kapenaare se brannas kennis gemaak...
Dag 14
Ons gaan betaal ons rekeninge by die restaurant. Ons moes omtrent soek na ons beursies omdat ons dit so lanklaas gebruik het! Totsiens Flamingo en die see– dit was ‘n voorreg om hier te kon wees. Ons gaan goeie herinneringe saamvat van hierdie plek. Van hier af begin die rit terug huistoe.
Vanaf Flamingo het ons gery tot by Namib – ‘n hawestad in Angola. Oppad na Namibe het ons verby die grootste welwitschia ter wêreld gery. In Namibe, terwyl ons op soek is na sigarette, word ons geteister deur ‘n bende jong knape. Die blikskottels steel toe sommer Porra se selfoon ook! Ons het hier vir ons Angola-kepse gekoop en nog ‘n paar N’Golas. Ons het die bakkies ook volgemaak – omtrent R4,50/l diesel! Jis dis goedkoop. ‘n Mens kan sommer jou US$ by die garage ruil vir Quanzas (met ‘n redelike kommissie natuurlik!)
Van hier het ons weer teerpad gery, verby klein informele huisies en stalletjies, waar Ben en Thinus sommer ‘n biertjie geniet het op hul ‘voorstoep’. Waar die Angola vlag hang moet mens ook nie ‘n kamera gebruik nie. Ons het fotos geneem van die plek, en vanuit nêrens verskyn 5 militêr gekleë polisiemanne wat vir ons met gebaretaal verduidelik dat ons NOU die kameras moet bêre.
Op ons roete was die Leba-pas, ‘n pas wat kronkel deur die berg tot ‘n hoogte van sowat 1850 m bo seevlak. Hierdie pas hou die record vir die vinnigste hoogte/afstand verhouding en is “absolutely stunning!”
Cliffie se bakkie se center-bearing besluit toe mos om die gees te gee. In Lubango kry ons toe ‘n werkswinkel wat dit kan regmaak, maar ons sal ‘n dag moet wag vir die part. Ons moes toe slaapplek vir die aand soek. Gelukkig vind hulle ‘n part net voordat ons inboek, en daar word besluit dat ons die pad maar in die nag gaan aandurf om op skedule te bly – wat ‘n nagmerrie! Lubango het so te sê geen verkeersreëls of verkeersligte nie. Die pad buite Lubango is feitlik non-existing, slaggate met stukkies teer rondom, en reuse trokke wat daar ry, sonder lyne of niks, en baie, baie stof. Dit was regtig scary, maar ons het aangestoot in konvooi.
So 01h00 die oggend het ons besluit om TB op te slaan in ‘n bees-paadjie ‘n entjie van die pad af en ons slaap ingekry. (Daar waar die Lamas rondloop)
Namibe
Lubango
Langs die Pad
Leba - Pas
Dag 15
Gisteraand skrik NET ek en Niel wakker van takke wat kraak in die bos naby ons. Ons het niks gesê nie en net vir mekaar gekyk. Ons het weer rustig geraak en toe kraak dit weer – asof iemand ons bekruip in die bos. Ek en Niel het maar weer net vir mekaar gelê en kyk. Hier kon ek myself in die skoene van ‘n troep in die oorlog sit – ‘n vreemde land, barbaarse mense en ‘n ruie bos in die donker nag. Ek het maar my flits nadergetrek omdat ek nie ‘n R1 gehad het nie, sodat ek die ‘terroris’ darem kan verblind indien hy ons sou kom pla, maar dis regtig washer-knyp oomblikke daai! Later het ek niks meer van die gekraak gehoor nie, en uiteindelik het ek aan die slaap geraak met die gedruis van die long-distance haulers op die grondpad.
Sjoe! Nou kan ons darem die laaaaaang pad aandurf in die dag – terwyl ons kan sie waarheen ons gaan. Ons kon ongelukkig nie die roete ry waar ons die ou tenks van die oorlog kon sien nie, omdat ons weer moet gaan inloer by Falkenberg Garage waar Scara se bakkie R.I.P.
Ons het afgedraai op sand/klip pad oppad na Ruacana. Thinus se skerp oë het ‘n gebou raakgesien in die bosse wat gelyk het na ‘n ou vesting of silo, wat moontlik deur die Dorsland-Trekkers gebou is. Die heeldag was maar weer off-road, maar nie so erg soos oppad na die Cunene nie. Die laaste stuk pad na Ruacana het ons weer op dieselfde ‘pad’ gery as wat ons gekom het. Ons het dit eers besef toe ons die rivierloop herken waarin ons die eerste nag in Angola deurgebring het. Ek het saam met Diesel en Dust gery, en Fanus,sy drywer, was maar taamlik haastig. Ons was eerste by die Grenspos. Die beampte op die grenspos het toe vir himself ‘n bottle Richelieu gekies uit ons koelboks soda thy sy werk vinnig kon afhandel en ons is in ‘n Japtrap oor die grens na Nambië. Anders in die geval van die res van die voertuie – hulle moes omtrent hul bakkies afpak en toe boonop al hul Quanza gaan spandeer by die beampte se eie winkel. Hul het die geleendheid darem goed benut en die laaste N’Golas van die trip gekoop. By Namibië se grenspos moes ons alweer sukkel om pinkfoot se enjinnommer te kry. Mens sou dink dat vir so ‘n groot lorrie hulle die enjinnommer in BOLD hoofletters sal stamp! Fanus hulle los my net daar op die grenspos en ek moet lift kry to by kamanjab saam met een van die ander voertuie.
Van hier af is ons terug na kamanjab waar ons die aand deurgebring het en weer kon stort. Daar was geen goeie nuus oor Scara se bakkie te hore nie.
Dag 17
Die laaste stretch huistoe. Ben en Thinus is vroeg op om Etosha te kan besigtig. Die prysuitdeling word ook hier in die kamp gehou. Die volgende toekkennings is gemaak almal was LEKKER pryse:
Double Deadly toekennings:
Hanno het die prys gewen vir die meeste spesies.
Piet het die prys gewen vir die meeste vis (honderde kabeljoue!)
Porra wen die albei pryse for grootse edible en non-edible
Piet wen toe sommer nog ene! Man of the trip HOOR HOOR!
Kisusuli/Outdoorpages Toekennings:
Porra nog ene vir die Grootste Leerie
Niel vir die eerste spottie
Ons pak maar rustig en vertrek. Op Outjo koop ons die laaste lekker biltongetjies en droëwors, Sny ‘n lyn na die Namibiese/Botswana Grens. Ons was so klein bietjie emosioneel toe ons die laaste kilometer grondpad ry. Cliffie laat sit toe sommer 4 nuwe bande in Otjiwarongo op, aangesien hy al 4 verloor het op die ekspedisie. Fanus hulle wou toe maar aanstoot huistoe, Ben hulle het gesplit van die geselskap en al wat oor is, is Pinkfoot en Suzie Crews. Ek klim toe sommer oor na Pinkfoot (my eintlike koets) en gaan saam om die LAASTE aand onder die sterre deur te bring by Camp Zelda.
Hier het ons vergeefs probeer om die oorskiet drank en kos op te gebruik. ‘n lekker afskeidskuier met lekker drankies en lekker kos (Piet se worspot) het die aand gemaak. Need I say more?
Dag 18
Ons is nou 6 manne in Pinkfoot – 2 voor en 4 op die agtersitplek. Ons ry uit Namibë deur Botswana (amper ons biltong verloor op die grens). Terug in SA het Niel ons elkeen ge-stick vir ‘n lekker garage-pie (hmmmmm) en vir Cliffie en Poppie koebaai gesê. Ons het die aand donker in Pretoria aangekom met harte deurmekaar van gemengede gevoelens. Ons is bly om terug te wees by ons mense, maar nou moet ons weer ons beursies en selfone gebruik en op highways rondry en vloek en skel… en ‘n mens wonder wat is die meeste verwilder – die bos, of die stad?
En hy praat, en hy praat… oor die dinge wat hom hartseer maak…
~ Die Einde~ (vir nou)








Nice catch !
Post new comment